Toespraak koop ..?


Raakpraat-Redenaars
maak vir kinders
die speelveld meer gelyk as ongelyk.

Is dit regverdig dat sommige kinders ‘n toespraak kan koop, vra jy?

Kom ons kyk
hoe dinge REEDS lyk:

Piet Predikant moet elke Sondag ‘n preek gereed hê. Hy help sy seun met vaardige hand om gedagtes onder woorde te bring en ‘n blywende boodskap op die hart te druk.

Annerien Advokaat stel elke dag haar saak, so oortuigend dat regters oortuig raak: Om haar dogter te help met ‘n redenaarstoespraak, is vir haar maar ‘n geringe saak.

Daleen Dramajuffrou weet hoe om ‘n beoordelaar se aandag te hou: Sy ken van stemwisseling en dramatiese pauses wat met ‘n gehoor kan toor!

Vir haar seun skryf sy ‘n uitmuntende toespraak
wat die opposisie sprakeloos laat!

Louis Loodgieter is ‘n man van min woorde, maar hy het darem ‘n niggie in die Kaap
wat sy seun sal help!

As laerskoolonderwyseres weet sy presies hoe die ding gedoen moet word
sodat die heel meeste punte toegeken word!

Skype jou hier, Skype jou daar – en sien daar:

Die loodgieter se seun
staan terug vir geeneen!

Ben die Bouer is ‘n man wat werk met sy hande!
Hy ken van stene en van bou volgens planne!

Hy bereken boukoste sonder ‘n sakrekenaar – maar as dit kom by toesprake het hy nie raad nie:

Hy sal nie sy dogtertjie daarmee kan help nie:

En sy het ook nie ‘n niggie in die Kaap nie.

Vir haar is daar niemand nie.

Vir haar is die speelveld nie
gelyk nie.

Daarom bestel Ben Bouer vir sy dogter ‘n Raakpraat-Toespraak by Raakpraat-Redenaars!

Nie almal se ouers is vaardig met woorde nie.

‘n Bekwame buurvrou is ook nie vir almal beskore nie.

Maar danksy Raakpraat-Redenaars - is hulle saak nie verlore nie!



Om jou toespraak te bestel kliek op die volgende skakel om 'n aanlynbestelvorm (met stap-vir-stap verduidelikings) in te vul:


Vir navrae, stuur 'n epos na redenaars@gmail.com

Artikel uit Taalgenoot:

Redenaarstoesprake: Om te koop of nie

Die advertensie op een redenaarstoespraakverskaffer se webwerf lui:
“Niemand durf meer die tennisbaan aan met ’n tuisgemaakte raket nie. Waarom moet jy die verhoog aandurf met ’n selfgemaakte toespraak? Vir hokkie koop jy ’n stok. Vir rugby ’n bal en trui. Vir redenaars bestel jy ’n toespraak ...”
Gekoopte redenaarstoesprake het in die laaste paar jaar ’n taai toffie geword.
Daar is dié wat vra hoekom nie, want nie eens die grootste oratore skryf hul eie toesprake nie. Ander snak na hul asem en bevraagteken die regverdigheid daarvan.
Die vraag is dus, voorsitter, dames en here (soos dit in ’n goeie toespraak hoort): Om te koop of nie?
Wat is die les?
Erika Janse van Rensburg, wat al jare by redenaars en debat betrokke is en ATKV-Redenaarskursusse aanbied, meen toespraakskrywers (dis nou diegene wat ’n geldjie vir hul moeite kry) het die kompetisie gekaap. 
“Die feit dat ouers te besig is – ouers koop selfs vir hul kinders toesprake vir ’n klaspraatjie – en die wenfaktor het veroorsaak dat daar ’n bedryf ontstaan het. As iemand so vindingryk is om op hierdie manier geld te maak, kan die ATKV niks daaraan doen nie, maar dis belangrik om voor oog te hou dat dit beslis nie die doelwit van die ATKV-Redenaarskompetisie is nie.”
Volgens Erika gaan dit nie vir die ATKV oor ’n gekoopte toespraak nie, maar eerder om kinders te bemagtig om dit self te doen. “Anders kon ons netsowel ’n kompetisie gereël het waar kinders ’n lekker lang gedig leer en dit kom opsê.”
Dr. Elbie Adendorff, wat al 17 jaar by die beoordeling van redenaarskompetisies betrokke is, beskou die koop van toesprake as ’n grysgebied. Sy meen enigeen wat aan sport deelneem, kry tog hulp van ’n afrigter, en dan praat ’n mens nie eens van fisioterapeute, kopdokters ensovoorts nie. Maar watter boodskap stuur gekoopte redenaarstoesprake, want redenaarskompetisies val in die opvoedkundige veld, voeg sy by. “Maak ons nie dan kinders groot wat nie vir hulself kan of wil dink nie?”
Die argumente 
Gaan loer ’n mens op webwerwe waar toesprake te koop aangebied word, kan ’n redenaarstoespraak jou tussen R300 en R700 uit die sak jaag. Daar is beloftes van klastoesprake binne 24 uur en sommige diensverskaffers reik selfs ’n sertifikaat uit wat “waarborg” die toespraak is enig in sy soort.
Die komediant Schalk Bezuidenhout, wenner in die ATKV-Redenaarsfinaal in 2009, sien niks fout daarmee om ’n toespraak te koop nie. “Op skoolvlak sou ek nie my eie toespraak kon skryf nie. Ek sou nooit met my eie toespraak kon meeding teen iemand wie se toespraak deur, byvoorbeeld, ’n vrou in haar 40’s geskryf is nie. Om met ’n gekoopte toespraak te praat is die saak net halfpad gewen; jy moet steeds die gehoor probeer oortuig.”
Volgens Schalk was daar in sy jare geen voorskrif dat jy jou eie toespraak moet skryf nie – dit was belangriker dat jy ’n beredeneerde toespraak skryf. “My ma is moerse bang vir reëls breek; sy sou nooit toegelaat het as dit verbied is nie.”
Janneke Venter, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Witteberg en 2016 se wenner in die ATKV-Redenaarsfinaal vir onvoorbereide toesprake, sê ’n mens moet vra wat die uiteindelike doel van die kompetisie is. “Volgens my is dit om ’n toespraak te leer skryf en praat; om te leer om ’n mening te vorm en jou oortuigings dan oor te dra. Wanneer jy toesprake koop, leer jy net om die toespraak te lewer en nie noodwendig om vanuit navorsing ’n bepaalde standpunt te formuleer en dan jou eie oortuiging oor te dra nie.”
Haar pa, Coenie, hoof van Witteberg en ’n bekende in redenaarskringe, sê die koop van toesprake is te verstane in ’n strawwe kompetisie en weens ouers se beheptheid met wen. “Maar so min mense besef dat die vaardigheidsontwikkeling van openbare redevoering, wat redenaars ten doel het om te ontsluit, ’n baie groter oorwinning is as die titel van wenner. Dit het naskoolse waarde wat jy nie met geld kan koop nie.”
Waardevolle diens
Praat jy met toespraakskrywers, is hulle dit eens die diens wat hulle lewer, bemagtig ’n kind om met selfvertroue sy sê te kan sê.
Nicolaas Roos van Raakpraat Redenaars het begin toesprake skryf as ’n guns vir sy suster en deesdae het hy ’n lang waglys van mense wat met sy kalwers wil ploeg. “Kinders se vermoë om navorsing te doen word reeds in take getoets. Hul vermoë om te skryf, word in opstelle getoets. Hoekom, as ’n kind se vermoë om te praat getoets moet word, moet hulle self die toesprake skryf?”
Madelein Waldeck van Praat met Passie skaar haar by Nicolaas en sê ’n kind moet leiding kry. “Dis nie meer net die elite-kinders wat aan redenaars deelneem nie,” voeg sy by. “En omdat die standaard deesdae so hoog is, kan ’n mens nie net met ’n selfgeskryfde toespraak daar opdaag en dink jy gaan die kompetisie wen nie.”
Dink saam
Een ding is seker: Of jy voor ’n gehoor gaan staan met ’n gekoopte toespraak of een wat jy self geskryf het, ure se werk word ingesit om jou standpunt te stel. 
Janneke sê die mededinging is so sterk natuurlike talent is nie genoeg nie; dit verg klipharde werk. “Ek sou sê dat ’n goeie redenaar aan die volgende eienskappe moet voldoen: Aanhou, uithou en opstaan wanneer die uitslae jou platslaan.”
Sy bestee ure saam met Annalie Bredenkamp, haar redenaarsonderwyseres. Hulle oefen om onderwerpe te ontrafel, standpunte te toets en skeppende taal te gebruik.
Luister ’n mens na die werk wat ingesit word, is dit duidelik: Al praat ’n mens in onvoorbereide redenaars, verg dit steeds baie oefening. Schalk se ma het ure se werk ingesit om hom gereed te maak om op sy voete te kan dink. “My ma sou oefeninge met my doen,” vertel hy. “Sy sou vir my ’n nuusberig gee en ’n tyd waarin ek ’n toespraak moes uitwerk. Ek het geleer om vinnig deur bronne te werk en ’n standpunt te stel. ’n Mens oefen die game, net soos rugby.” 
Vir Elbie lê die oplossing daarin dat toespraakskrywers en sprekers nouer saamwerk. Die kind kan sy of haar insette lewer, terwyl ’n volwassene dit skryf en formuleer.
“Alle ouers wil hê hul kind moet goed doen, maar dis belangrik om nie die opvoedkundige waarde van redenaars te vergeet nie. Ek weet ouers en kinders is besig, maar die saam skryf aan ’n toespraak kan ’n goeie bonding-ervaring wees.”
Coenie meen die formaat van die kompetisie kan aangepas word. “Sodra ons sou begin om kinders op ’n baie vroeë ouderdom – met hulp vooraf vir struktuur en woordeskat – in ’n lokaal te plaas om hul eie toespraak te skryf en dan rou talent teen rou talent beoordeel, hoe gouer gaan ons kinders bemagtig om die vaardigheid te bemeester. Vir diegene wat net wil perform, kan ons ’n kategorie skep vir slegs gekoopte toesprake waar die klem op die voordraggedeelte val.”
Die Amerikaanse rolprentmaker John Ford, wat as een van die grootste en invloedrykste regisseurs gesien word, het gesê: “Jy kan goed praat as jou tong die vermoë het om die boodskap van jou hart oor te dra.” Met ’n gekoopte toespraak loop jy dalk met iemand anders se hart op jou mou, maar ten minste kry dit jou sover om voor ’n gehoor te praat. Om te koop of nie te koop nie – dit bly die vraag. 
DEUR REZA CLIFFORD
* Hierdie artikel het in die Taalgenoot (Lente-uitgawe 2017) verskyn.